Elsabe Moolman

Op 29 September 1984 is ons as gesin vrolik en opgewonde oppad na Pretoria toe om vir Ouma en die familie te gaan kuier.

Ons ry met twee motors en ek ry voor en skielik merk ek 'n wit Golf wat reg op my afpeil - 'n grusame ongeluk gebeur...
Ek het die vreeslike gedagte besef - my man en twee kinders is dood!

My jongste het begin skree en ek het haar self uit die kar uitgehaal toe die mense begin drom. Sy het hulp nodig gehad want haar bene was gebreek met hoofbeserings. My dogter van tien was stil agter in die motor - geen bloed - maar toe ek haar kop oplig was ek stukkend - ek moes my van haar wegskeur - want my ander dogter het hulp nodig gehad.

'n Man het ons gejaag na die HF Verwoerd - dit was 'n oneindige rit. Ek het my broers gebel. Ek was verward en ernstig beseer en beangs want hoe sou ek regkom sonder my man en my kind.
Die breinspesialis was so goed vir ons.

Dit was 'n baie groot begrafnis wat ek nooit sal kan vergeet nie - en almal wil help - maar dis maar net God se arms wat jou kan vashou wat tel en Hy dra ons nog steeds - al is dit soveel jare later.
Al wat ek gedink het aan in daardie tyd is hoe ek alleen my kind gaan grootkry.

Op die 29ste September 1985 - is my ma oorlede aan 'n gewas op die brein . Ek het haar al toe reeds versorg vir 'n jaar en sy was baie siek.
Die gemis van jou ma is net so erg want met wie praat jy oor jou probleme. En my kind het net bly sê dat haar voetjies nie meer wil loop nie - en ek moes haar oral ronddra.

Twee jaar later sterf my Pa aan 'n anorisme voordat ek by hom kan kom. Ek het nog met hom die oggend oor die foon gepraat. En dis weer besittings wat ek moet uitsorteer en besluite neem, maar weer kry ek die krag....

In 1988 - vroeg die oggend kry ek 'n oproep dat my oorlede man se 3de broer in 'n grusame motorongeluk dood verbrand het.Ek was histeries - almal wat omgee vir my is net weg......

Ek is daarna vir 'n tweede keer getroud en ek was baie bang want ek 'n kind wat baie aandag verg - en hy het twee seuns.
Hulle het 17 jaar by my gbly en ek het liefgeraak vir hulle - al was dit aanvanklik 'n aanpassing. So het hulle met al hulle probleme na my toe gekom.

Vyf jaar na ons huwelik kry my man nierversaking en na die eerste oorplanting van 'n nier wat hy van sy tweeling broer kry , verloor hy die nier agv nalatigheid van die dokter.
Twee nieroorplantings daarna - en sy liggaam verwerp elke keer die nier. Dit was soos dood in die familie. Ek versorg hom self vir 11 jaar op 'n dialise masjien by die huis.
Dit was moeilike tye en hy wou nog so baie doen vir sy dorp en sy mense maar op 10 Januarie 2002 kon sy liggaam nie meer nie en is hy oorlede.

Ek is nou 'n ouma en baie lief vir my kleinkinders maar my groot hartseer is dat my stiefseun nou deur 'n traumatiese egskeiding gaan.

Kan ek nog - na al die hartseer?

Ek kan net vir ander vroue wat my storie lees sê - dat al bly die seer en herinnerings jou by - weet ek dat net God ons kan help. Vertrou volkome op Hom en wees sterk in die geloof. Jy sal krag en genade kry wat jou deurdra.

Ek het baie goeie vriende en familie vir wie ek baie lief is.

Elsabe, baie dankie dat jy jou storie met ons deel, ek is vas oortuig daarvan dit dit 'n verskil in iemand se lewe sal maak!

Liefde

Sonja