Cynthia Terblanche

Op die eerste September het ek 'n funksie saam met Sanlam aangebied in Polokwane en erkenning gegee aan 'n besondere vrou. Toe ek haar ontmoet het ek 'n sterkte raakgesien wat julle sal lees in haar storie wat sy self geskryf het.
Hoe sy haar omstandighede hanteer het en nog steeds hanteer, wat uiters moeilik was, is net so 'n inspirasie. Dankie Cynthia vir jou voorbeeld - dit is werklik 'n voorreg om jou te kon ontmoet.

Dit was ook 'n wonderlike gebaar van Sanlam om aan haar 'n geldelike donasie te kon maak, wat werklik vir haar iets kon beteken.

Hier vertel sy self haar verhaal.

Ek is Cynthia Terblanche -'n 31 jarige geskeide vrou - met ‘n seun en dogter van 4 en 10 jaar, onderskeidelik.

Ek is so 2 jaar terug geskei, met ‘n man waarvoor ek baie lief was en feitlik nog baie lief voor is, maar liefde kan nie net van een kant af kom nie.

Ek was 8 jaar getroud en ken my ex- man al 13 jaar van my lewe.

Ek is op 21 getroud en het toe swanger geraak en my dogter gehad, net toe ek klaar 21 geword het.

Dit was eintlik ‘n skok want dit was nie so beplan gewees nie.

Ek wou nie trou nie, want ek het geweet op daardie stadium gaan ek ‘n fout maak want ons gaan nie trou vir die regte redes nie .

Sy ouers het toe so aangehou dat ons moet trou, sodat die kind ‘n naam kon kry. My man was nie reg vir die verantwoordelikheid wat hy moes dra nie.

Ons het toe na Malelane toe verhuis waar net ek ‘n werk gehad het en moes sorg dat daar elke aand kos op die tafel was. Die dinge het so erg geraak dat hy party aande nie eers huis toe gekom het nie.

Ek het hom toe gaan konfronteer oor sy dronkenskap, en daarna huis toe gery. Hy het by die huis aangekom en my begin slaan voor my dogtertjie, my handsak uitgegooi, en gesien hoe my dogtertjie alles weer optel.......

Ons is toe weer vir ‘n week uitmekaar en toe hy weer terugkom huis toe, soos dit 'n goeie vrou betaam, het ek hom weer vergewe en aangegaan met ‘n swaar hart.

Ons was so aan en af uitmekaar, omdat hy net gedrink en gejol het, met geen verantwoordelikheid nie.

Ek moes maar self na my kind omsien, maar het geweet met God se hulp kon ek aangaan en weer opstaan.

Ons was ‘n klomp kere uitmekaar, en weer terug bymekaar, want ek het hom jammer gekry, maar op ‘n stadium het my liefde begin afneem.

Die jare het maar so verbygegaan en het ons aangesukkel en swaargekry.

Ek is die een wat altyd ‘n permanente werk gehad het waar my man net 2 of 3 maande gewerk het en dan weer vir ‘n lang periode niks werk kon kry nie. Sy gedrink en gejol was maar nog steeds op die spyskaart.

Ek het hom nog steeds bygestaan en hom gesien deur Jesus se oë. Ek het so gewens dat hierdie man sal regkom en sy lewe sal regkry.

Sy vier jaar gelede, was ons weer uitmekaar en het hy weer gevra om terug te kom.

Ek het hom toe jammer gekry en maar weer laat terugkom. Ek het toe weer swanger geraak.

Die opmaak-liefde is baie swaar, want kyk toe wat het gebeur - my seuntjie is toe op 18 Januarie 2006 gebore en weereens was ek al een wat daar was vir hom.

Die pa was maar soos altyd. Daar was nie geld vir die kinders en my behoeftes nie, maar daar was altyd geld vir drank.

Ek het maar nog steeds vasgestaan deur die Here se genade. So het ons maar deur die volgende jare gegaan tot 2 jaar terug wat ek toe weer swanger geraak het.

Ek kon nie hierdie baba in hierdie omstandighede kry nie, want ek het klaar swaargekry om my kinders so groot te maak. Ek het toe ‘n besluit op 'n aborsie wat ‘n baie swaar besluit was, maar ek kon nie nie anders.

Dit was soos ‘n swaard deur my hart. Ek het die Here vergifnis gevra en die pyn sal lewenslank by my bly, want dit is nie iets wat ‘n mens kan vergeet nie.

Maar dit is die verlede en ek weet die Here dra my steeds. Daar is net een ry voetspore in die sand.

Vandag staan ek steeds op die drumpel van ongeluk want my salaris kan nie alles bekostig wat moet betaal word nie en moes ek weer by my ex-man intrek na my egskeiding, ter wille van my kinders sodat hulle ten minste ‘n blyplek kan hê.

Maar die dinge gaan nou so erg, dat hy my sielkundig afkraak en sê dat die kinders kan bly maar ek moet gaan.

My kinders is my alles in die lewe en ek sal vir hulle veg tot die dood.

Ek is tog die enigste een waarop hulle werklik kan staatmaak.

Dit is glad nie lekker om so te bly nie en nog om alles te kroon het sy ma by ons ingetrek en sy beïnvloed hom so negatief.

Maar ek moet vasstaan met die Here se genade en my geloof in Hom. Al wat ek kan sê is dat ons meer as oorwinnaars is deur Jesus Christus wat vir ons krag gee en ek glo hieraan.

Deur al my swaarkry was daar darem ‘n paar keer wat die Here werklik voorsien het.

Ek het nie geweet waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie of waar ons gaan geld kry om die huur te betaal nie. Ek het ook in 2008 baie skuld aangegaan om ons aan die lewe te hou toe my man nie werk gehad het nie en het hy het belowe om my daarmee te help wat hy nie gedoen het nie en nou moet ek daarvoor opdok.

Die Here het vir my al paaie gemaak waar daar nie paaie was nie.

As ons Hom nie kan hoor of sien nie - is dit omdat ons nie sien en luister nie - want Hy is altyd daar.

Ek het darem een ding wat my man nie het nie. Ek het Jesus aan my kant, maar moet my nie verkeerd verstaan nie want ek dra my ex-man in elke gebed wat ek bid op aan die Here, en hou vas aan die hoop dat hy wel eendag sal begin glo en sy oë sal oprig na die Here.

Onlangs het die Here 'n wonderwerk gedoen, nadat my ex-man my weer in sy dronkenskap, uit die huis wou jaag, en met 'n mes gedreig het.

Hy en sy ma het by 'n ryk man in Pretoria gaan bly en omdat hy nie 'n maand kennis gegee het nie, moes hy 'n maand se huur vooruit betaal en ek en my kinders het betaalde blyplek en ons is veilig en alleen.

As die Here vir my so kan onderneem, sal Hy verder ook vir ons sorg.

Hierdie is my storie en ek weet dat daar buite soveel anders vrouens is wat dieselfde ervaar in hulle lewens.