SANDROSE OP MY WOESTYNPAD
Ek wonder of jy ook al so gevoel het?
Asof jy stoksiel-alleen in ‘n dolleë woestyn ronddwaal en oral rondom jou is dit net eindelose sand? Asof jy maar net outomaties rigtingloos aanstap en asemhaal omdat jy moet, nie noodwendig omdat jy wil nie?
Was jy al dáár?
Ek was - is soms steeds, in ‘n sekere sin.
Hier is my verhaal van hoe God saam met mens in woestyne loop ... en sandrose oral voorsien:
Ek was maar 4 jaar getroud toe my man met ‘n baie aggressiewe soort kanker by hom gediagnoseer is. Op daardie stadium het ons al ‘n klein seuntjie gehad en ek was swanger met ons dogtertjie. Die kanker kon nie gestuit word deur enige behandeling nie. My man moes talle operasies ondergaan. Die kanker was in sy gesig en nek en hy het sy gesigsenuwee aan die regterkant verloor wat veroorsaak het dat sy gesig skeeftrek. Hy het in die proses ook sy regter oor verloor ... en sy vermoë om te sluk. Die kanker het sy gesig dus basies vermink. Dit was ‘n uiters traumatiese tydvak wat ons beleef het. Onsekerheid, moedeloosheid en vrees vir alleen-wees, soveel "Wat nou's?" en "Waar is U?" vrae wat in mens se kop maal. Ek was so lief vir hom, maar het op daardie stadium meer soos sy verpleegster as sy vrou gevoel.
Nege jaar later verloor my moedige, pragtige man sy stryd teen hierdie monster. Hy sterf op 12 Maart 2002. Ons kinders was onderskeidelik 11 en 9 jaar oud. My steunpilaar en beste maat was nie meer by my nie. Ek was nou so bitter alleen en so bitter hartseer. En bang.
Die herinneringe wat hy egter by my en ons kinders nagelaat het, het gespreek van integriteit, beskikbaarheid, begrip, geloof, deursettingsvermoe en diepte-van-menswees.
In hierdie hele proses het hy ‘n onuitwisbare impak gemaak op almal om ons se lewens. God gebruik ons in Sy onmeetlike, onuitspreeklike grootheid selfs in mens se donkerste uur.
In 2004 trou ek weer. Hierdie keer met ‘n geskeide man wat 2 kinders het. Sy kinders het saam met ons kom woon. Die nuwe, groter familie was iets waaraan ons almal gewoond moes raak en verskeie aanpassings-probleempies moes gekonfronteer en die hoof gebied word. Die 4 kinders se ouderdomme het gewissel tussen 15 en 11 jaar. Dus was almal tieners, ‘n moeilike mini-spesie met tye, soos soveel van julle weet!
Ek was egter nie meer alleen nie. Ek het weer iemand gehad wat na my vreugdes en klagtes kon luister, met wie ek dinge kon deel, wat my bederf het en my weer soos ‘n vrou laat voel het.
Op 11 Mei 2007 krummel die veronderstelde standvastige grond waarop ek geloop het wreed onder my voete!
My man word skuldig bevind aan bedrog en moet ‘n vonnis van 7 jaar gevangenisstraf uitdien. Ek was verpletter!!
Ek het soveel emosies in my flenter-hart rondgedra teenoor my man. Ek meen, hoe KON hy? Ek was woedend, ongelooflik teleurgesteld, skaam, bitter en baie bang! Hoe gaan ek vrou-alleen 4 tieners met net my salaris versorg?
Hoe gaan ek hierdie alleenheid, waarvoor ek nie gevra het nie, hanteer?
Ek het nie meer kans gesien vir my huwelik nie. Ek wou van my man skei en het hom dit so meegedeel.
Maar weet jy, as mens God se aangesig soek in jou grootste ellende en pyn en hartseer, dan kom besoek Hy jou einste flenter-stukkend hart persoonlik met soveel sagtheid en ontferming en liefde. Hy, wat die kenner is van my hart, het my talle vrae met ‘n hoorbare stem geantwoord :" My kind, staan asseblief vir Danny by. Ek SAL vir jou en die kinders sorg."
Ek het geweet dis Sy stem. Op grond daarvan, en nie op hoe ek op daardie stadium gevoel het nie, het ek besluit om Hom te gehoorsaam. Dit was ‘n gelate besluit waarmee ek Hom ten volle sou moes vertrou want op myself en my emosies kon ek beslis nie staatmaak nie. Ek het geweet die pad vorentoe gaan moeilik wees.
Ek het my man ingelig van my besluit en die egskeiding teruggetrek.
Van daardie oomblik af kon ek ervaar op daaglikse basis hoe God Sy belofte aan my nakom. Hy het op wonderbaarlike wyse vir ons gesorg. Ek het vir ‘n hele jaar lank nie een water-en -elektrisiteit rekening betaal nie omdat ‘n onbekende weldoener dit maandeliks ten volle vereffen het. Eenkeer het ons soveel kruideniersware ontvang dat ons nie genoeg plek gehad het om dit in te bêre nie!. Geld was met tye in my bankrekening betaal, gewoonlik wanneer dit broodnodig was.
Ek kan van soveel meer geleenthede getuig. Al het ek nie uitgereik na enigiemand om my nie - as gevolg van die vernedering wat ek ervaar het - was daar soveel mense wat in opregtheid en gehoorsaam in opdrag van God na my toe uitgereik het.
Is dit nie ook vir jou absoluut amazing nie?
Dit is nou 3 jaar later. As ek terugkyk, kan ek sien dat ek op die woestynpad wat ek geloop het, en steeds loop, by ‘n hele paar oasisse aangedoen het en sandrose gevind het.
God alleen verkwik mens se siel en gees. Ek het geleer om ‘n naby-pad met Hom te stap. Om ‘n intieme Vader-kind verhouding met Hom te bou.
Ek het geleer wat dit is om blindelings te vertrou en elke toekomstige onsekerheid met daardie einste geloof te omarm omdat Hy reeds daar is. Ek het geleer wat dit is om gehoorsaam te wees en in volle afhanklikheid te leef van Hom in Wie se hande ek is.
Ek kon my man vergewe. En ek kon dit vir hom sê. Ek sien so uit na die dag wanneer hy vry by die gevangenis-deure sal uitstap.
Want ek is vir hom lief en hy is vir my lief en ons huwelik is sterk want God is deel daarvan. Verwydering bring so maklik vervreemding, maar omdat ons geanker is in God, kan ons steeds saam groei, al besoek ek hom net een maal per maand.
Dat Hy ‘n plan het met ons lewe vorentoe is beslis en definitief. En ek sien uit daarna om in Sy diens te staan saam met my man.
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Daar is steeds baie dae wat ek hartseer, moedeloos en bang voel. Nie alle dae is ewe rooskleurig nie. Soms is dit asof ek nie eens troos uit Sy kosbare Woord kan put nie, net om môre maar weer te voel hoe knus en veilig ek eintlik in Sy handpalm lê.
Maar bome wat vandag bloeisels dra se blare val ook af en staan kaal in die winter wanneer dit koud en grys is, net om weer in die lente te bod. Die potensiaal vir vrugdra is altyd daar, maak nie saak in watter seisoen die boom hom bevind nie.
Ek het ook geleer dat God elke verleentheid in ‘n geleentheid omskep.
Wanneer jou identiteit in Hom gevestig is, maak dit die pad makliker omdat jy weet wie jy is in Hom.
Die geheim is egter om jou Goddelike identiteit te leef met oorgawe en in gehoorsaamheid en absolute nederigheid.
Ek wil so bitter graag elke mens wat my in gehoorsaamheid aan die Here in opregtheid en omgee op my woestyd-pad ondersteun hetsy deur gebed, materiële voorsiening of vriendskap, uit my hart uit bedank! Veral my Ma. Sy het soms swaarder gedra aan my kruis as ek.
Dus sal woorde alleen nie voldoende reg laat geskied aan my dankbaarheid teenoor haar nie.
Weet net, jy is nooit alleen nie. God IS altyd saam met jou. Jy KAN die pad stap. Maar moenie eens daaraan dink om dit sonder jou beste Vriend te doen nie!
Aan God al die eer!
Sy liefde en myne,
Cheryl