Hierdie besondere vrou is so 'n inspirasie, geen wonder haar lewens motto is: "Daar lê nog 'n vol lewe voor - elke dag is 'n nuwe begin". Sy is ma van vier kinders. Haar oudste dogter het tydens haar matriekjaar swanger geword en hulle het as ouers haar met liefde omvou en hul kleinkind aangeneem. Hulle huis staan ook oop vir mishandelde en verwaarlose kinders, en bied vir hulle 'n plek van veiligheid. As dit by bejaardes kom is sy persoonlik betrokke om 'n verskil te maak. Na haar pa se afsterwe het sy haar ma by haar laat bly en die familieplaas bestuur. Sy begin toe 'n eksklusiewe Lodge op die plaas, terwyl sy ook nog 'n winkeltjie op Bela-bela bedryf.
Sy lewe so ten volle haar lewe - ten spyte van die feit dat sy gediagnoseer is met borskanker in 2001. 'n Limpektomie word gedoen en tydens die behandeling ontdek hulle 'n gewas op die eierstok. Dit word verwyder en sy ondergaan intensiewe chemo en bestraling. Na 'n jaar word die helfte van haar lewer verwyder a.g.v. 'n gewas op haar lewer en dis weer chemo - en na twee en 'n halwe jaar moet sy weer 'n operasie ondergaan en intensiewe
chemo en bestraling omdat daar 'n gewas op haar breinstam ontdek is. Tans ondergaan sy weer chemobehandeling nadat daar twee maande gelede gewasse in haar buik opgespoor is.
Die lewe kan maar kom met sy klappe - maar Belinda bons soos 'n kurkproppie elke keer weer na die oppervlak. Dankie Belinda vir die voorbeeld wat jy leef! Jy is so 'n inspirasie!