Ek verstaan maar te goed Annelize se motiveringsmeganismes vir die besluite oor haar huwelik. Ek was self ook daar en ken die pyn van haar omstandighede.
Eers as jy self daar was verstaan jy beter met begrip en empatie.
Annelize was getroud met 'n man wat egbreuk gepleeg het - en elke keer het haar hart in stukke gebreek. Later het sy maar begin aanvaar dat sy haar man vir die res van haar lewe met ander moet deel. Elke keer het hy haar gemanipuleer met sy groot jammerte na die tyd en dan het sy hom vergewe, omdat sy hom en haar 3 kinders liefhet.
Toe Annelize uitvind van 'n verhouding met 'n vrou in Johannesburg en sy hom daaroor konfronteer, was hy woedend. Hy het haar en haar klere oral langs die pad afgelaai en haar verbied om haar kinders te sien. Iemand in hulle tuisdorp het haar in hul huis ingeneem.
Haar man het toe besef dat hy moet verander en hy het toe tot bekering gekom en die Here aangeneem en alles in sy vermoë gedoen om Annelize te probeer terugkry. Baie mense het haar aangemoedig om terug te gaan na hom toe, omdat hy dan so verander het.
Annelize was onseker maar sy het hom weer vergewe en nog 'n kans gegee.
Vir 'n rukkie het dit goedgegaan totdat hy eendag vir haar gesê het dat die Here 'n vrou oor sy pad gebring het wat hy in 'n kroeg ontmoet het. Sy was weer stukkend en besluit om te skei. Hy het haar toe bly smeek om terug te kom terwyl die ander vrou nog steeds in sy lewe is. Sy kom toe op 'n kerkkamp tot bekering en besluit om hom nog een kans te gee. Toe sy teruggaan na hom toe het hy haar begin aanrand, selfs voor polisie-beamptes.
Sy is nou op haar eie, en moet self die pot aan die kook hou, en ook emosionele sekuriteit bied aan haar twee kinders.
Annelize jy is 'n baie sterk vrou. Ek het die grootste respek vir die manier waarop jy jou moeilike omstandighede hanteer en die pad na genesing wat jy nou begin stap. Ek bid dat jy elke dag meer en meer van jou eie waarde sal raaksien en ervaar en dat dit vir jou 'n ongelooflike motivering sal word. Jy is vir my 'n voorbeeld en 'n inspirasie.