Ananda Huygen

Ek het aan Ananda op Brits erkenning gegee omdat sy werklik moes opstaan en haarself bymekaarkry en alleen moet sorg vir haar twee kinders en sy het hulle na die tyd aan my kom voorstel.

Dit was 'n voorreg om met haar te kon gesels en om haar positiwiteit te beleef. Sy vertel self haar verhaal.  

GOD MAAK ‘N PAD WAAR DAAR GEEN HOOP MEER IS NIE

Ek is gebore in 1965.

Tydens my ma se swangerskap het die dokter haar meegedeel dat sy ‘n tweeling verwag. Sy was redelik geskok en wou dit nie glo nie. Sy het dan ook nie klaargemaak vir twee nie. Met die aankoms van die baba het die dokter ma meegedeel:  "Mevrou reageer net op die nageboorte"  Wel toe moes ek vinnig planmaak want toe is ek die nageboorte.  My moeder het altyd gesê:

 " JY is my pasellatjie van die Here af."  Grootgeword in ‘n wonderlike huishouding met geen vloekery of skreeuery nie.  As pa en ma woordewisseling gehad het,  het jy nie eers daarvan geweet nie. Snaaks genoeg,  mens word groot en dra onbewustelik dinge in jou rond wat ‘n klein dorinkie in die vlees is,  van moontlike verwerping in die baarmoeder.

In my kinderjare is ek dan ook deur ‘n familielid gemollesteer. Die feit dat jy moet stilbly het aan jou gevreet. Ek het gevoel ek moet dit volwasse hanteer al was ek ‘n kind.

Ma is in 2005 graf toe,  sonder dat ek haar daarvan vertel het. Al die jare het ek dit vir myself gehou.

Ek het dan altyd ook gevoel ek moet Boeta ondersteun en bystaan my hele kinderlewe lank. Hy is bietjie aan die verfynde kant en moes ek altyd vir hom instaan en sy sake baklei.

Hy was dan ook die slim kind wat gaan swat het van ons twee. Weereens het ek tweede in die ry gestaan en teruggestaan dat hy kan doen wat hy wil. Nog iets steek onbewustelik sy kop uit. Minderwaardigheid.  So is ek Tegniese Kollege toe om myself te bewys. Twee jaar daar en begin werk in 1983.

So het die jare aangestap met allerhande klein worteltjies van seer binne my.

Soos enige jong meisie se drome was my drome ook om ‘n goeie man te kry en die res van my lewe met hom te spandeer en saam oud te word. Ek wou ook iets in die lewe bewys. Wys dat ek kan ook ‘n sukses maak van die lewe.

So het my drome dan ook op ‘n 29jarige ouderdom waar geword. Die man wat ek geglo het is vir my - het ek ontmoet in Maart 1994.  Hy was op daardie stadium werksaam by ‘n apteek as sekuriteit en medisyne- vervoer.  Ek het nog altyd ‘n wil in my gehad deur die genade van Ons Hemelse Vader en die ouer huis waarin ek grootgeword het,  om die beste in ‘n persoon te sien. 

My oudste suster het my gewaarsku om mooi te kyk na die verhouding aangesien die man met wie ek betrokke was,  reeds twee keer getroud was maar met geen kinders uit die huwelike nie.

My antwoord aan haar was daar altyd ‘n kans  dat mense kan verander en ek sien die mooi in mense raak. As ons Vader nie eers die prostitute weggejaag het nie, wie is ek om te oordeel. Elke mens in die lewe kan nog ‘n kans gegun word. Tydens die uitsoek van die ring het hy vir my ‘n blaadjie gegee van die ring wat hy graag wil koop. Op daardie stadium kon hy nie saamgaan om die ring te koop nie en moes ek die blaadjie saamvat. By die juweliers gekom het ek die blaadjie verlê en moes nou maar op gevoel gaan. Wat ‘n wonderlike instink het die vrouwees nie,  want toe ek by die huis kom was dit presies wat hy ingedagte gehad het. Nog ‘n bevestiging was dit vir my dat dit my man moet wees. (so dink ons mos)

Dit nou kammasuis die Here wat bevestig het. Maar gebruik ons nie te veel die Here so nie. Die Bybel leer ons dat jy moet waak en bid. Dit sê dat jy moet bid maar ook moet waak. Dis waar jou gesonde verstand inkom om te dink,  maar ons doen eers,  en dan as dinge skeef leef,  bid ons gou.  

So het ons dan ook verloof geraak.  Ons het besluit aangesien ons altwee volwasse is hoef ons nie die verhouding  uit te rek nie. Ons wou oorspronklik eers saambly na die verlowing,  maar my beeld van Jesus wat ek moes uitdra, en die Heilige Gees in my,  het daarteen geskop want dit is nie reg om saam te bly nie. Hoe verwag jy die seën van die Here op so verhouding. En vir die familie was dit taboo om saam te bly. Dis ‘n gruwel.

Intussen het ons vir hom ander werk gesoek en dan so reggekom by ‘n plaaslike myn. Hy is aangestel as operateur en so kon my drome waar word en ons is in die huwelik bevestig op 30 Julie 1994.

Sy familie was gladnie  eers op ons troue nie - slegs sy ouma was daar want sy was baie erg oor hom. Hy was sy ouma se alles en geen vrou was goedgenoeg vir hom,  volgens haar nie. Ek het darem pluspunte gekry by haar - maar het agterna uitgevind - dit was net voorlangs.

 Agter my rug is ek beswadder as die hoer van die dorp.

Gelukkig het ek geweet wat in my is,  en waar ek vandaan kom. Mense kan enige dinge kwytraak,  as hulle nie iets wil laat gebeur nie. Ek het net besluit ek sal aan almal bewys dat ek ‘n sukses gaan maak van my huwelik,  want ek was baie lief vir hom en het nie toegelaat dat negatiewe dinge my omkrap of in ons pad staan om ons huwelik te laat werk nie.  

Op daardie stadium was ek in die Pinksterkerk en sy familie in die susterskerke.

Ons glo mos ons sal ‘n man regkry. Ons glo ook mos dat net Pinkster is reg,  want jy het dan daarin groot geword - maar by God is almal ongeag in watter kerkverband kinders van God - wie in Hom glo en Hom aanvaar het as sy Persoonlike Saligmaker.  

Wat ‘n wonderlike dag was dit nie. My tweelingbroer het so gehuil want hy het vasgeglo dit is nie die man vir my nie - maar het terwille van my gevoelens en geluk dit aanvaar.

Ons het volgens my ‘n baie goeie huwelik gehad. Dit was nie vir my ‘n groot aanpassing nie,  aangesien ek my alles in die verhouding ingesit het. Hy het al die jare skofte gewerk en het ek as ‘n betaamlike vrou veral die 2-10skof gesorg dat sy kos eers 10uur in die aand gemaak word sodat hy vars kos kan eet.

Hy was een wat nie van oorstaankos gehou het nie,  en so het ek dan die wekker gestel,  dat as hy instap half 11 - 11uur die kos vars en warm uit die pan kom.

So my slapenstyd was dan gewoonlik so 12uur die week wat hy 2-10 gewerk het.  Na 2 jaar se gesukkel om swanger te word,  het ons besluit om te gaan vir kunsmatige insimenasie.  Afsprake is gereel.  Dit was ‘n ervaring op sy eie gewees. Die gevoel om daar te lê - en net te hoop dit werk - en so het ek dan  nog ‘n keer gegaan. Nie een van die twee kere het gewerk nie en was ek redelik verpletterd.

Hoekom werk dit nie, was my vraag,  is ek nie goed genoeg nie. Die familie het my baie ondersteun veral my skoonsuster. Sy was ALTYD daar vir my. Op daardie stadium het sy al haar tweede seuntjie gehad - so  dit was dan nog erger.

Hoekom mag sy en nie ek nie. Intussen soos ons vroumense se koppe werk - het ons selfs gekyk na  aannemming - maar dit was ook onsuksesvol.  Moed is maar ingepraat en het ons besluit aangesien dit nie werk nie gaan ons maar vir die "gift" soos die dokter dit daardie tyd genoem het. Maar God se tyd is nie ons tyd nie. Hy's altyd betyds. Die dag met die besoek om al die inligting te kry rondom die" gift"  het die dokter my getoets en tot my verbasing was ek reeds swanger.

Ek was in ekstase!  Dadelik het ek baba-benodighede gekoop. Pa was net so opgewonde,  want dis sy eerste in die derde huwelik. Hy het ook altyd gesê as sy seun daar is,  sal hy elke dag van die werk afkom met die 6-2-skof -  en sy kind gaan haal want hy hoef nie by die dagmoeder te wees as pa tuis is nie. (maar dit het nooit so gebeur nie)

So het die maande aangestap en is ons seun gebore November 96 met ‘n epidurale keiser. ‘n Volle 3,8kg. 

Ons het hom dan ook vernoem na sy pa want ek glo dis ‘n eer vir ‘n seun om sy pa se name te hê. Ons het ook soos gebruiklik my seun ingeseën by die plaaslike gemeente waar ons aanbid het. Die Here se genade was deurentyd met ons. Toe my seun 8 maande oud is word ek siek - die gewone ou verkoue.

 Op daardie stadium het my skoonouers by ons gebly en was my man ook half siekerig.  Dit was ook ‘n aanpassing in die huis met hulle daar,  maar ek het altyd vir vredesonthalwe stilgebly as dinge nie lekker is nie,  en ter wille van gevoelens, maar die beste gemaak van die sake.  

Hulle neem toe sommer ‘n urine-monster van my saam met my man dokter toe. Teruggekom by die huis deel my skoonpa my mee: "baie geluk jys swanger"

Ek kon dit nie glo nie. My eerste gedagte was wat gaan haar naam wees. Ek't  geweet dis ‘n dogtertjie.

 Intussen het ek iets begin vermoed.  Kort- kort het ek lipstifie in my man se kar opgetel,  of onder die sitplek. Wanneer ek hom gevra het daarna,  was sy antwoord dat hy iemand ‘n geleentheid gegee het terug dorptoe,  van die werk af.

Van toe af was ek maar altyd half skepties, en tog maar aanvaar dis die waarheid,  maar diep binne het dit gekrap - maar ek het nie verwyte gegooi na sy kant toe nie.

Ek is van nature ‘n baie rustige en kalm mens en het in die lewe geleer SIT ‘N WAG VOOR JOU MOND want woorde is skerper as ‘n twee-snydende swaard en as woorde uit is kan niks dit uitvee nie. WOORDE KAN MENS BREEK tot in die afgrond in. 

Getrou het ek aan hom gebly.  Spanning was maar deel van my swangerskap.

Toe ek 7-maande swanger is,  het hy ‘n ongeluk gehad oppad werk toe. Ek was by die werk en my skoonma het my gekontak met die nuus dat hy moontlik dood is.  

Ons dogter is toe gebore in Feb op 32 weke met ‘n noodkeiser. Haar gewig was 1.7kg.   Sy was twee weke in Intensief gewees en ek het elke dag deurgery Pretoria toe om vir haar borsmelk te gee,  en daarna is sy ontslaan met ‘n volle 2.050kg.

Pa was maar min betrokke daar.  My kinders was en is my trots wat ons Hemelse Vader aan ons toe vertrou het. Intussen het my skoonouers getrek en so het ons ook verhuis van Elandsrand af na Brits.

In 2002 het dinge tussen ons nie meer so lekker gewerk nie. Hy het sy selfoon met sy lewe opgepas. Kort kort was daar boodskappe wat deurkom. Elke dag was vir my ‘n stryd by die werk want jy vermoed iets. Jou gedagtes hardloop heeldag rond van waar is hy nou. Wat doen hy. Intussen moet jy kalm bly. Dank die Here vir ‘n kalm gemoed,  alhoewel dit binne in jou elke dag stukkie vir stukkie breek. Wat gaan gebeur en wanneer en hoe - was elke dag deel van my gedagtes.   

In 2002 September is ons na my skoonsus se troue toe.  By die onthaal het die boodskappe weer ingekom en dit was kamtig ‘n " please call me"  van die werk af.  Hy is intussen as voorman aangestel en het my meegedeel hy is op roep. By die huis gekom moes hy DRINGEND WERK TOE MET SY KERKKLERE NOGAL AAN maar dit was oppad "poppie" toe.  Hy begin laat kom van die werk af in die aand en weer vroeër ry in die oggend - en die werk was altyd die verskonning.

My moeder het daardie jaar 73jaar oud geword en sy het beroerte gehad en het nie geweet hoe lank sy gespaar sou wees vir ons nie. Hy wou nie saamkom na haar verjaarsdagete toe nie en het by die huis gebly.

Die braai het ons by ‘n plaaslike kleuterskool gehou,  aangesien daar ruimte was,  omdat ons redelik baie mense was wat die braai bygewoon het. Na die braai het ek en die kinders huistoe gegaan en agtergekom hy is nie by die huis nie.  Ek het gery om te gaan kyk waar hy moontlik kon wees en sy motor het daar by "haar" gestaan. Ek het sy foon geskakel en was hy baie verergelik met my.  Hy het klere ingepak en eers na die naweek huistoe gekom.  Daar was ‘n atmosfeer in die huis en hy wou nie met my praat nie.

Dit het begin uitkom wie die vrou is en was volgens hom onskuldige kuiertjies en koffiedrink.

My seer het begin. Ek het gesoedat en gesê ek vergewe hom. Hy het die vrou laat kom na my huis toe en volgens haar was daar ook niks nie.  

Hy het ‘n dagboek gehou oor hoe hy oor haar voel en dit was regtig siek.  Oktober het hy uitgetrek en in ‘n woonstel uit die dorp ingetrek. Sy ouers het op dieselfde perseel as ek gebly in ‘n woonstel. Dit het my hart gebreek om te sien hoe hy en sy by my skoonouers kuier en braai,  want dit was my skoonma se vriendin.

Elke dag was vir my ‘n stryd. Ek het dag vir dag by die tafel gesit en huil,  maar moes die pot aan die kook hou met my twee kindertjies - op daardie stadium 4jaar en 3jaar oud. Ek was stukkend en die moelikste was om die vrou te sien saam met hom.

My bediende het altyd vir my gesê - jy huil nou maar daar gaan ‘n tyd kom wat hy gaan huil. My vertroosting was by die Here met familie en vriende om my. Ek het elke nuwe dag gesê  NOGTANS SAL EK JUBEL IN DIE HERE. So het ek maar gehoop hy kan verander.  So het Desember aangebreek met Kersfees en Nuwe Jaar. Wat sou 2003 vir my inhou. Nogsteeds nie geskei nie,  want dit is een skikking op die ander met steeds die hoop dit kan verander.

Einde Januarie 2003 kry ek ‘n oproep van hom en hy sê  DIE HERE STUUR HOM TERUG WAAR HY HOORT.

Dit was ‘n blye dag,  want die Here is mos in die saak - hoekom sal ek twyfel. Ons het die kinders meegedeel dat pa terugkom en het dadelik planne gemaak om al sy goed terug te kry by die huis.

Ek het teenstand van die familie gekry maar soos ons Vader in my hart gewerk het,  deur die Heilige Gees,  kom die oordeel my nie toe nie. Hy is met blye arms ontvang en ons was weer ‘n gesin. Min wetend was dit net ‘n uitkoms vir hom. Die verlede was nie afgebreek nie.

Ek het met ‘n verskiklike onsekerheid in my rondgeloop,  want weereens het die boodskappe deurgekom met alles wat daarmee gepaardgaan tot op 25 Feb 2003.  Hy het my geskakel werk toe en gesê dat die pastoor ons kom sien die middag. 

Ek was vol vertroue dat hy vir berading kom, want ek sou enige ding doen om die huwelik te red - want wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie.

Maar was ek rêrig in die wil van die Here met my troue en lewensmaat -  of was dit nie maar my wil wat maar die eerste beste een gevat het om te sê eks getroud nie?  Maar tot my ontsteltenis was die skrif aan die muur.  Hy wou skei.  Dit het gevoel of ek stoksielalleen staan.  Verskillende gedagtes het deur my geflits.  My kindertjies het eenkant gestaan en nie geweet wat aangaan nie. Ek was geskok want 9jaar het vir hom niks beteken nie.  Ek het hom kwansuis in die huwelik ingedwing.

Ons is April 2003 geskei volgens die land se wette. Met dankbaarheid kan ek sê dat ek hom altyd met respek kon behandel voor en na die egskeiding. Dit was swaar want hy het nog tot in September in dieselfde huis gebly as ek - net in ‘n ander kamer. Ek het nogsteeds vir hom kos gemaak elke dag. Daar was net nie meer ‘n seksuele verhouding tussen ons nie.  Elke dag was vir my nag want ek moes ook intussen die beeld van Jesus uitdra. Bitterheid en selfverwyt het ek beveg.  Genade op genade het ek elke dag deurgekom. Die dood was beter vir my - want dan is hy nie meer daar nie. Dood is meer finaal as egskeiding.

Nogtans het ek elke dag met die kinders ‘n nuwe dag begin. Al die vrae wat hulle gevra het van Hoekom? En die dae wat nog gaan kom. Maar nogtans het ek gejubel in die Here. My kinders was by ‘n wonderlike kleuterskool en was ek ook wonderlik emosieel ondersteun deur die onderwysers en bestuurslede. So het ons ‘n paadjie begin loop net ons 3.

Ek wou nooit weer dink aan ‘n verhouding met iemand nie omdat vertroue ontbreek.

 Ek het ‘n kursus bygewoon - THATCHING HEARTS - om binne te heel.  Om te leer hoe om verbitterheid en verwyte te verwerk en om te glo in jouself - en jou vrouwees te verwerk en terug te kry,  want ons Vader het vir ons aan die kruis gesterf vir al ons oortreddings en ook so vir hom wat my seergemaak het.

Ek moes leer om op die punt te kom om hom te seën - al was dit moeilik. Weereens was die een ry voetspore daar van die Here. Want Hy het my nog heeltyd deurgedra. 

Die kinders se pa het Septeber 2003 verhuis en is toe kort daarna weer getroud. 

Ek het met soveel vrede in my hart geloop dat die dag toe hy my meedeel hy gaan weer trou was ek en die kinders op sy troue,  met opregtheid in my hart.  Weereens is verwyte van familie en vriende my deel gewees maar ek glo dit is wat ek moes doen om te wys dat Jesus my deel is.

Die kinders het vir die eerste keer vir hom gaan kuier vir ‘n week net voor Kersfees en dit was vir my vreeslik erg.  Dit het gevoel of hulle van my afgeskeur word,  alhoewel dit nie so was nie - maar dit was deel van die heelmaak proses. Ons verstaan nie nou nie maar sal eendag verstaan. Met die terugkeer van die kinders het ek vir hom en sy nuwe vrou ‘n ete voorberei en selfs geskenke gekoop vir Kersfees uit dankbaarheid dat die kinders by hom was. Dit was laaste wat ek hom gesien het.

Daars geen kontak tussen hom en die kinders nie omdat hy dit so wil hê en ook geen onderhoud nie.

Maar nogtans kan ek jubel in die Here want Hy is goed vir ons.

Die kinders vra vrae - wanneer hulle presteer op skool - was pa nie daar nie dalk daar nie?

Met elke verjaarsdag,  die opgewondenheid van dalk net - dalk gaan pa bel en dan laat die aand die teleurstelling van geen oproep nie - en dan die vrae van "waar is pappa en dink hy nie eers aan my nie, het hy vergeet van my verjaarsdag" en dan om die bitterheid weereens te verwerk. 

Dan die een of twee kere wat hy wel kontak gemaak het is vir my gesê:   "sê vir die kinders hulle pa is dood" 

Elke verjaarsdag,  elke kersfees,  is ‘n deel in die lewe wat moet heel.

Om altyd ‘n goeie prentjie van die pa voor te hou en maar namens hom verskoning te maak van dalk was hy besig (partykeer weet jy self nie )

Dis wanneer jou hart weer met jou praat - daar diep binne waar die seer lê - van hoe is mens ‘n pa en ‘n ma?  Daar kom dae wat jy net omhuil as jy so alleen in die kamer is in die aand. Wanneer die probleme jou pad langs kom, dwaal jou gedagtes en selfmoord was ook al deel van my gedagtes,  maar dank die Here vir twee pragtige kinders wat mens koers in die lewe gee.

In 2009 Januarie het ek weenseens my hart vir die Here gegee en lewe ek voluit vir Hom.

Hy is my lewe, my opstaan,  en as ek gaan slaap. En al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee  is HY met my. Hy vertroos my siel. Al kruis probleme my pad daagliks met die kinders se "geite" en "grille",  kan ek jubel.  

Dank die Here dat na die jare aangestap het,  glo ek het die Here ook met ‘n heelmaakproses die kinders aangeraak het. Ek kan ook met alle opregtheid sê,  ek glo hulle verstaan beter - dalk nie die volle prentjie nie - maar weet wie is hulle KRAG vir elke dag.

Hulle het geleer dat ONS HEMELSE VADER ALTYD daar is vir ons en alhoewel ons aardse pappa nie daar is nie, voorsien ons HEMELSE VADER DAAGLIKS.

Die versie wat ek die kinders elke dag leer is WAT JY SAAI SAL JY MAAI  (dis die dat my seun my eendag meedeel: "Al maar mamma saai net?")

Dis ‘n eer om te saai en dit beteken nie noodwendig altyd geld nie, maar liefde, geduld, vriendelikheid en nederigheid. Die vrugte van die Gees moet altyd elke dag deel wees my lewenswandel soos geskryf is in die Woord Gal: 5.

 Soek die koningkryk van God en al die ander dinge sal vir jou bygevoeg word. God se tyd is nie jou tyd nie HY'S ALTYD BETYDS MET ALLES.

Vandag kan ek soveel mense help wat die paadjie stap wat ek moes stap,  maar omdat ek bereid was om deur ‘n hellingsproses te gaan en ek met dankbaarheid en alle opregtheid sê  

DIE HERE IS GOED VIR ONS

 Hys ons  groot geneesheer en ons Hemelse Vader.

WEES GESEëND IN ALLES WAT JULLE AANPAK

ANANDA