Erkenning

Trudy Boshoff

Die aand met my optrede in Oos-londen in Meimaand die jaar sal ek nooit vergeet nie, want daardie aand was ek so siek met griep en het ek ook my stem verloor.
Maar die ligpunt van my program was die erkenning wat ek kon gee aan 'n vrou wat maar net nie gaan lê nie - Trudy Boshoff. Ek het haar gevra om haar storie vir my te stuur in haar eie woorde en ek plaas dit graag.

Sonja du Toit

Soms ontmoet jy mense wat so 'n indruk op jou maak dat dit net bly vassteek omdat daar net iets omtrent hulle is, ja 'n dinamika, maar iets wat skyn in hulle oë, en wat lig bring aan 'n donker wêreld wat soveel hoop nodig het!

Nou ja - dit is Sonja - 'n dinamiese besondere vrou met die lig in haar oë van 'n Gees wat gee en omgee en voed en haar passie uitleef!

Dit was vir my 'n wonderlike voorreg en inspirasie om vir haar erkenning te kon gee op Worcester!

Annetjie Harmse

Ek het hierdie dinamiese vrou erkenning gegee met my vertoning verlede jaar in Polokwane. Haar storie wat sy self vertel klink soos 'n storie in 'n fliek en ek is bly dat sy haar boek skryf.

Hoe sy haarself bymekaar gehou het, moet haar wil wees om te oorleef en om nie te gaan lê nie - en die blote Genade van die Here. Maar ek glo dat dit is haar kinderlike geloof in die Here wat haar deurgedra het.

Cecelia Oosthuizen

Cecelia Oosthuizen & Sonja Herholdt

Ek voel baie keer so bitter klein as ek vroue ontmoet aan wie ek erkenning gee - en hulle menswees laat jou sonder woorde want hulle raak jou siel.

So is dit met hierdie vrou wat die onregverdigheid en intense pyn van die lewe ervaar, maar dit vierkantig in die gesig staar omdat sy weet dat daar 'n Groter Mag in beheer is en wat haar lewe in Sy Hand hou - en daarmee saam 'n ewigheidsperspektief het wat haar staande hou.

Lorraine Jacobs

Ek het onlangs op die lugmagbasis - Braambos - naby Louis Trichardt erkenning kon gee aan 'n vrou wie se geloof vir my so 'n inspirasie is. Haar kinderlike vertroue en afhanklikheid van die Here is maar net 'n bewys dat die Here sê: "Dit sal wees volgens jou geloof" en "Jou geloof het jou gered"

Weer is geloof maar net vir my dit wat vir ons so moeilik is - 'n vaste vertroue van dit wat jy hoop maar wat jy nie kan sien nie. Maar Lorraine se storie is juis dit wat sy uitleef - en beleef!.

Ek dink die geheim is haar kinderlike geloof, sonder om 'n sweepie te twyfel!

Elma du Plessis

Toe ek my program in Ellisras aangebied het, het ek die pragtige Mamma met haar jaaroue babatjie sien inkom, en geweet dat dit die vrou is aan wie ek die erkenning moet gee.

Gedurende die aanbieding van my program het sy uitgegaan toe haar dogtertjie lastig raak, en weer aan die einde van die program ingekom en toe ek haar vorentoe roep, het sy en Makayla saam die toekenning kom ontvang.

Toe ons vir haar die blomme gee, saam met haar toekenning, het sy met trane in haar oë genoem dat sy dit op haar drie kinders se grafte gaan sit.

Hierdie vrou weet van opstaan en aangaan omdat jy nie 'n ander keuse het nie... of dalk het jy........ en van oorbegin.
Lees haar storie wat sy vertel.

Ronel Fouché

Ronel Fouché & Sonja Herholdt

Ek het die voorreg gehad om in Maart erkenning te kon gee aan 'n besondere vrou in Kimberley. Bo en behalwe haar aangrypende storie wat sy self skryf het sy nog ook kanker oorwin.

Sy is vir my'n inspirasie en 'n rolmodel - iemand by wie elkeen van ons kan leer wat hard val, opstaan en weer probeer ......... beteken.

Dit was verblydend toe sy vir my sê dat toe sy haar storie klaar geksryf het tussen al die trane deur - was dit so bevrydend - en dat sy dit reeds lank terug al moes doen.

Liewe Ronél - baie dankie dat jy jou hart met ons gedeel het. Dit is vir my 'n ongelooflike voorreg!

Marinda Viljoen

Ek het 'n fenominale vrou ontmoet met borrels in haar stem - 'n vrou in murg en been - wat omdat sy moes opstaan en leer en groei en waagmoed aan die dag lê - dit op haar eie unieke manier maak in 'n mans dominerende wêreld.

Sy is nogal 'n vrou wat verskillende rolle vertolk en slaag daarin om dit suksesvol te kan doen. Sy is 'n besondere vrou en 'n inspirasie vir my.

Cheryl Greyling

Cheryl Greyling & Sonja Herholdt

Ek het hierdie besondere dame ontmoet in Middelburg tydens my onlangse toer Kaap toe. Ek het haar storie sit en lees terwyl ons deur die karoo gery het en dit het my so geinspireer.

Dit is maar nou net eenmaal so dat ons nie so verskillend is nie en dat ons uit mekaar se stories en ervarings kan leer.

Cheryl jy is vir my 'n inspirasie en jy is verseker 'n pêrelvrou.

 

Carina Smith

Ek het die 11de Maart 2010 in Kimberley opgetree en 'n pragtige stralende vrou het vir my kom sê wat met haar gebeur het nadat sy my vorige program bygewoon het.
Dit was vir my so 'n inspirasie om dit te hoor dat ek vir haar gevra het om dit vir my te stuur.

Toe ek dit lees, het ek besluit dat ek op die website aan hierdie vrou, met baie deursettingsvermoê en "guts", erkenning wil gee en haar storie wil plaas omdat dit vir ander sal inspireer en sal oplig.

Sy is 'n besondere vrou en 'n rolmodel vir haar kinders en vir my.