6 Julie 2009
Die grootste gedeelte van Junie was ek op toer aan die Weskus en Kaapstad met die aanbied van my musiekmotiveringsprogram "Die hartklop van vrouwees".
Dit was verfrissend om die mense op die platteland te kon ervaar en ek was oorweldig deur al hulle liefde en omgee by elkeen van die plekkies waar ek die program aangebied het.
Ek het weer ongelooflike vroue leer ken en ontmoet wat hulle buitengewone omstandighede oorkom het of nog moet hanteer - en sulke inspirasie-mense is vir my.
Dit was vir my 'n voorreg om vir hulle erkenning te kon gee, want kry ander daardeur hoop.
En iemand het gesê "Waardering is 'n wonderlike ding - want dan word die beste in ander mense ook 'n deel van jou"
Die Kaap het my ook gegroet met sy ysige-koue winterweer, en ja ek moes my jas styf vasknoop.
By Velddrif wou 'n man wat ook die program vir die vroue bygewoon het, weet waarom ek deesdea meestal net vir vroue gehore optree. Wanneer hou ek weer "ordentlik konsert" wou hy weet?
Wel my antwoord was dat ek so 'n bietjie fokus, en myself en my talent daar aanwend waar ek glo ek die meeste impak kan maak.
Sedert 1997, na my egskeiding moes ek oorbegin met my lewe en moes ek leer om op my eie oor die weg te kom. Ek moes myself weer op die been kry.
Dit was nie 'n maklike proses nie maar ek moes myself "reconstruct" (dit is meestal waaroor my Reconstructing Alice album gehandel het).
Hierdie proses en my lewenservarings is iets wat ek met vroue kan deel - en ek glo en weet na aanleiding van die terugvoer wat ek persoonlik ontvang,
dat dit maak 'n positiewe bydrae. As ek die lewe net bietjie makliker en hoopvol kan maak vir iemand is dit vir my die moeite werd.......
Die plan was dat ek in Julie sou begin opneem aan 'n nuwe kommersiële album, wat 'n bonus CD met al my treffers gaan insluit. Die opnames is egter bietjie uitgestel omdat ons nog werk aan materiaal. Ek sien egter uit na die nuwe album en wil so gou as moontlik begin met die opnames.
Wynand wou ook per e-pos by my weet waarom dit so moeilik is om van my CD's in musiekwinkels te kry. My antwoord was dat ek nie my vroeëre werk besit nie en dat die beskikbaarheid daarvan uitsluitlik afhang van - die eienaar van die werk - in hierdie geval - die platemaatskappy EMI.
Dit is dus vir my as kunstenaar moeilik om my eie handelsmerk, (my naam) te bestuur as ek self nie die werk besit nie.
Sedert 1975 toe my loopbaan begin het het ek baie kilometeres oor Suid Afrika gery.
Die afgelope toer Kaap toe was ek weer gereeld op die pad vir baie ure en kilometers.
In al die jare het ek nog nooit ernstige teenspoed op die pad beleef nie en dat ek glo dat dit die Here is wat my nog altyd veilig bewaar het.
Dit glo ek - is net onverdiende Genade - en daarvoor is ek Hom baie dankbaar.
Al my liefde, tot 'n volgende keer.