VONK & Harlekyn

Disco Disco @ Vonk

1 November 2011

Dit was vir my 'n groot eer om deel te kon wees van die jaarlikse VONK toekennings. Ek het twee items gelewer, my 1970's liedjie Disco Disco in die openings-medley en toe het ek en Winray sy liedjie Muchas Gracias saam gesing. Willie Venter het 'n ongelooflike produksie op die planke gebring, en ek is trots om deel daarvan te kon wees.

Johan het laat weet dat hulle 'n bietjie stadiger vorder met "Sing vir die Harlekyn" op DVD. Die DVD kom wel steeds hierdie jaar uit rondom Kersfees, klink dit vir my. Ek sal laat weet sodra die DVD beskikbaar is.

My program is nog redelik besig tot aan die begin van Desember, dan gaan ek ook so 'n bietjie rus. My jongste Timmy kry aan die einde van November sy tweede kogliêre inplanting. Ek is bly ek het dan tyd om by hom te wees na die operasie. Met sy eerste inplanting 'n paar jaar gelede moes ek twee dae na die operasie op 'n 3 weke toer vertrek.

Sterkte met die laaste deel van die jaar.  Ek glo ons almal sien uit om so 'n bietjie te rus oor Desember.

"A man isnt't poor if he can still laugh." - Raymond Hitchcock

Liefde
Son xx