Rapport Haiti Konsert

Rapport Hoop vir Haiti konsert

5 Februarie 2010

Dit was vir my 'n groot eer en voorreg om deel te kon wees van hierdie baie spesiale geleentheid. Die idee het by Cheree die sangeres ontstaan, sy het toe 'n e-pos uitgestuur en 'n week later sit daar toe net bietjie meer as 2000 mense in die Big Top arena by Carnival City.

Daar was +/- 40 kunstenaars wat ingestem het om verniet op te tree, en Carnival City het die lokaal en Gearhouse het die klank geborg, terwyl Rapport en verskeie radiostasies gehelp het met die bemarking.

Tydens die konsert het ek net weer besef hoe baie ongelooflike talent daar in ons land is. Daar is rêrig ongelooflike kunstenaars wat net eenvoudig hulle ding doen, sonder ego of ster-status. Dit was vir my 'n eer en voorreg om die verhoog met hierdie ouens te kon deel.

Die vertoning het begin met video-beelde van die vernietiging in Haiti. Sjoe - my hart gaan so uit na daardie mense.

Ek kan maar net bid dat die Here hulle pyn en lyding sal verlig, en dat hulle Sy Genade sal ken.

Daar was blykbaar kritiek teenoor hierdie poging, blykbaar voel sekere mense dat so 'n fondsinsameling moes eerder vir plaaslike nood gebruik word. My persoonlike opinie is dat ek graag help waar ek kan, soos wat dit vir my moontlik is. Ek dink dit is eerbaar as iemand 'n inisiatief begin om mense in nood te help, maar na amper 35 jaar in die bedryf, weet ek baie goed dat daar altyd kritiek sal wees, maak nie saak hoe opreg en eerbaar die bedoeling is nie.

My nuwe album Pêrels:
Dit vorder. . . stadiger as wat ek sou wou, maar dit vorder. EK het by die Haiti konsert een van die nuwe liedjies, "Soen my vandag" gesing en klink vir my dit was goed ontvang. EK sing dieselfde liedjie weer vanaand by die opname van die kykNET program "Dis hoe dit is met Steve". Ek sal laat weet as ek weet wanneer die opname uitgesaai word. Soos dinge op die oomblik staan sal Pêrels vroeg Maart beskikbaar wees, ek hoop!!

Ek begin in Februarie weer toer met my musiekmotiveringsprogram. Dit is my passie en dit help my ook om my kop reg te hou, want dit is so maklik om in negatiwiteit te verval. . . Ek glo om te hoop is 'n keuse. . . ons moet dit net doen!!

Liefde
Sonja