Junie 2010

Die afgelope maand het ek regoor Suid Afrika my musiekmotiveringsprogram "Die Hartklop van Vrouwees" aangebied. Ek is dankbaar en bly vir almal wat die program bygewoon het, tenspyte van die renerige koue aande veral in die Weskaap. Ek is ook net so dankbaar oor die positiewe terugvoer en is bly dat my boodskap harte raak, en 'n bydrae lewer.

Ek het ook pas nuwe voorraad van my Biografie, Meisie van Nigel ontvang - die derde druk. Die boek is nou eksklusief hier op my webwerf beskikbaar want daar is nie meer kopieë in die handel beskikbaar nie.

Ek kry ook positiewe terugvoer oor my nuwe album Pêrels, en is juis in die volgende twee weke besig met die maak van twee nuwe musiek videos, vanaf die album. Ons maak 'n video van die liedjie, "Soen my vandag" en dan die duet wat ek met Simeon sing "Ons vlieg saam".
Dankie aan almal wat my ondersteun met hierdie album - julle terugvoer is vir my kosbaar.

Daar was die afgelope maand TV onderhoude oor die nuwe album op Glitteratie sowel as 'n insetsel op Kwela. Dankie aan almal wat gekyk het en kommentaar gelewer het.

Ek is opgewonde oor die res van die jaar en sien uit na nog twee of drie interessante projekte. Een daarvan is Liefling die Movie, waarin ek 'n rolletjie gespeel het.
Die fliek word eers in November vrygestel maar daar is reeds 'n kort advertensiegreep op "you tube, kyk hier.

Gedurende die sokkervakansie gaan ek dinge so 'n bietjie rustiger neem, maar begin weer volstoom middel Julie. Ek is dankbaar vir gesondheid en die geleentheid om my hart en ervaring met vroue te kan deel.
Dit bly my passie en my inspirasie ,veral die besondere vroue, wie ek die voorreg het om erkenning te kan gee vir die manier waarop hulle die lewe oorkom.

Ek sluit af met hierdie bemoediging wat vir my baie beteken.
Jesaja 49:4 "Ek het gedink - ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof ....... maar die Here sal aan my reg laat geskied - my God sal my beloon."