Ek groet my Pappa & 2009

Op Saterdag 28 November 2009 is my pappie op die ouderdom van 84 oorlede aan kanker. Hy het skielik in September sleg begin voel, en nou-ja van daar af was dit net afdraande pad vir hom en wat vir my so hartseer is, is dat hy so moedig probeer veg het en positief gebly het dwarsdeur die bestraling wat hom so siek gemaak het.

Hy was 'n sterk 84 jaar maar het later besef dat hy besig was om die stryd te verloor - en hy het alles soos 'n "gentleman" hanteer - maar ek is dankbaar teenoor die Here dat Hy sy lyding verlig het en hom gou kom haal het......

Nou het ek ook nie meer 'n mamma of 'n pappa nie, maar ek weet waar hulle is. Ek en my boetie Wayne het nou maar mekaar en ons albei besef dat die lewe is so kort -en wat jy vandag kan doen om 'n verskil te maak, moet mens doen....."This life is but a passing stage".

Ek het nog een optrede op 16 Desember en daarna gaan ek ook 'n bietjie rus. Dit was 'n jaar vol uitdagings.

Die produksiewerk aan my nuwe album "Pêrels" vorder fluks en ek is baie tevrede met dit resultaat. Daar is nog nie 'n defnitiewe datum vir die vrystel van die album nie maar dit behoort vroeg 2010 te wees.

Ek het in die verlede  saam met die groep ON QUE 'n paar optredes gedoen. Toe Willie Venter, hul bestuurder, my kontak om te hoor of ek nie 'n liedjie saam met hulle wil opneem nie het ek dadelik ingestem.  Dit is 'n tango-liedjie, en was nogal's 'n uitdaging. Die groep is almal professionele dansers, en Winray is die sanger.

Ons het saam 'n onderhoud op Pasella gedoen wat alreeds uitgesaai is en ook 'n musiek-video van die liedjie "Muchos Gracias" wat op youtube te siene is. Kyk hier.

Ek was ook alreeds in die ateljee om op te neem aan die liedjies wat ek in "Liefling - die Movie" gaan sing en sien uit na die verfilming wat gedurende Januarie en Februarie 2010 gaan plaasvind. Lees meer oor "Liefling - die Movie" by www.liefling.com.

Op 'n meer onaangename noot - die pers het my weer oorval vir kommentaar oor die uitspraak in die Els/Klay verhoor. My amptelike kommentaar was dat die reg het sy gang gegaan - en wat meer kan ek sê. My simpatie lê by Robbie Klay en dat ek sal getuig in 'n moontlike siviele saak indien ek gedagvaar word om dit te doen.

Ek distansieer myself ten sterkste van die sensasionele en onakkurate aanhaling onlangs in die koerant Sondag.

En ek het my beswaar ook skriftelik aan die koerantbase deurgegee. Sulke negatiewe pers is vir niemand goed nie, al sê hulle "all publisity is good publisity".

Ongelukkig het mens geen beheer oor wat die koerant met jou kommentaar maak nie - hulle plaas dit wat jy sê in 'n konteks wat sensasioneel oorkom en wat heeltemaal iets anders beteken as dit wat jy aanvanklik gesê het. Mens moet dit besef en dit met baie wysheid en bedagdheid hanteer.

Ek het nie 'n agenda nie en neem nie aktief deel aan enige aksies nie, maar indien dit van my verwag word sal ek 'n bydrae lewer met verantwoordelikheid en integriteit. Dit is maklik om uit die vrees vir kritiek pasief te wees, maar iemand het op 'n tyd gesê: "The only way evil can prevail - is for good men to say and do nothing".

Ek maak ook foute en kritiek help my om daaruit te leer. Ek weet ook dat ek myself en ander mense nie te ernstig moet opneem nie, dit help my om perspektief te behou.

My ma het altyd gesê - "die hoogste bome vang die meeste wind en moenie jou bekommer oor die keffertjies wat teen die boomstam piepie nie...."

Stadig maar seker begin ek besef dat dit nou kerstyd is. Ek gaan dit waardeer en begin rus en die feesgety met al sy mooiheid en sy mense geniet!

Mag dit vir jou en jou geliefdes ook 'n wonderlike tyd van vrede, seën van die Here, en rus wees.

Mag 2010 vir ons almal baie mooi dinge inhou en ek sien uit na die uitdagings wat 2010 gaan bied.

Hierdie tye wat ons beleef in Suid-Afrika glo ek word ons geforseer om uit ons gemaksone te beweeg en werklik die Here te vertrou en in die geloof te groei. En mens kan net met geloof die Here behaag. Want hoe sê hulle: "Faith is the substance of things hoped for, the evidence of things not seen".

Kersgroete

Sonja

Kommentaar

Sonja, jy is werklik 'n voortreflike vrou!

Hi Sonja,

Ek was bevoorreg om 'n foto van jou saam met my te kon neem, net na jou optrede by Dikhololo op die 16de Desember 2009.

Jy was nog altyd vir my 'n inspirasie, toe ek nog 'n dogtertjie was, het my ma vir my die liedjie van jou "Ek verlang na jou" geleer, en tot vandag toe ken ek nog die woorde van daardie liedjie.

Ek kan sien dat jy God onvoorwaardelik liefhet, jou hele uiterlike straal as kind van God. Ek sal graag bietjie met jou wil gesels oor dinge wat my vanaf 2006 tot vandag toe uitmergel. Moet ook net vir jou sê dat jy 'n fantastiese sangstem het. En jy moet ook nooit veranger nie.

NB: Baie jammer om van jou pappie se afsterwe te hoor, maar hy is nou by sy Skepper, en uit hierdie wrede wêreld waarin on leef. Mag die Here jou en jou familie sterk hou en elke dag krag gee sonder jou pappie.

Liefdetjies

Hannietjie

KERSFEES WENSE

Liewe dierbare Sonja,

Jy hanteer altyd alles soos dit die Here behaag. Met humble dignity en weet net ons glo in jou en wat jy met jou hele wese uitleef. Dit liefde van Jesus kan in jou gesien word en dis die belangrikste. Wie ook al die vieslike goed in Sondag kwytgeraak het, ken jou nie en weet nie hoe 'n fabulous mens jy is nie. Ek dink net party mense kan nie sonder sensasie nie, en maak misbruik van die feit dat hulle joernaliste is. Wel ek voel weereens bevoorreg om iemand soos jy as my vriendin te he en basta met die pers. Ek wens vir jou 'n wonderlike Kersfees saam met vriende en familie toe en dat 2010 jou juweel jaar gaan wees.

Liefde
Thelma