As ek so deur die winkelsentrums loop is dit asof ek nie kan glo dat die versierings die Kersseisoen uitbassuin nie! Hulle moet harder skree, want ek kan dit nog nie "click" nie.
Die jaar was net te vinnig vir my............
Ek is tans op die Voorblad van die Vrouekeur. Die artikel handel onder andere oor my deelname aan Liefling die movie wat tans wys.
Dit was vir my 'n baie goeie jaar en 'n jaar vol verrassings!
Skouspel was een - en toe nog 'n Lewenslange Bydrae by die Rapport Vonktoekennings! En om alles te kroon het ek 'n Merceds gekry om vir 'n jaar te gebruik - geskenk deur McCarthy Kunene.
Ek het met die ontvangs van die tweede Lewenslange Bydrae toekenning genoem dat ek hoop nie dat die toekennings nou beteken dat ek moet aftree nie! Want dit voel of ek nou eers weer begin, veral met my nuwe album Pêrels wat ek dink seker my beste album is tot op hede.
Ek is besig om met die mense van McCarthy Kunene te onderhandel om in plaas van die gebruik van die A 200 Mercedes - eerder die aanbod om te swaai in iets meer prakties vir ons omdat ek nog baie toer en die land vol rondry.
My Sprinter (Mercedes paneelwa toer voertuig) wat nou al tien jaar oud is, en wat nou al 'n paar myle op het, en ek moet sê uitstekende diens verskaf het, is nie meer so heeltemal betroubaar nie. So ons kyk om die hudige aanbod te verander in 'n goeie aanbod op 'n nuwe Sprinter sodat ons met meer vertroue die pad kan aandruf. So hou maar vir my duimvas vir ons onderhandelinge. Mens moet mos prakties dink!
My twee toekennings pronk op my kas in die sitkamer en ek is baie baie dankbaar vir die eer wat my te beurt geval het!
Ek is ook baie bevoorreg gewees om die rol van Liefling se ma te kon vertolk in die musiekfliek "Liefling" wat op die oomblik in die teaters draai. Die premiere - met sy swart tapyt - nie rooi nie- was nogal 'n ervaring. Voel skoon soos oorsese sterre!!!! Ons het nogal in limo's gearriveer met sjampanje op die koop toe.
Ek wil vir Paul Krüger gelukwens met sy breinbaba en glo dat sy en almal se harde werk sal vrugdra!
Die Liefling fliek word met groot vreugde deur meeste mense ontvang en geprys en ek glo dat dit die vakansie se groot lekker gaan wees vir die hele gesin om die fliek te gaan geniet!
Julle moet vinnig kyk om my te sien want dis 'n klein rolletjie, maar dit was vir my so lekker om weer so bietjie te kon speel in 'n fliek! Dit het my net lus gemaak vir nog!
Geniet die mooi jongmense in die fliek. Hulle is 'n lus vir die oog, en die ouer gesoute kunstenaars gaan in julle harte inkruip - glo ek!
Ek het ook nog so tussendeur opgeneem aan 'n lied "Shayamanzi" om die bemarking van die webtuiste www.leopard.tv wat die luiperdbewaringsprojek van JPF is, vlerke te gee.
Die lied is geskryf deur Rudi Claase en ek glo dat die projek baie groot gaan word.
Ek stap al 'n baie lang pad saam met Jannie Parsons, veral met die borskanker-bewusmaking onder vroue met my
musiekmotiveringsprogram oor die land wat ek die afgelope ses jaar aanbied.
Daar het julle dit nou - wat 'n besige jaar. Geen wonder dat ek nog nie die Kersgevoel het nie, maar toemaar ek sal hom begin vang!
Ek en Simeon gaan die 4de Februarie 2011 'n konsert aanbied in die Centurion Teater. Almal vra wanneer bied ek weer 'n konsert aan in Pretoria. Nou-ja julle kan gerus nou dit kom bywoon. Ek sal my nuwe materiaal aanbied, veral "Pêrels", en 'n hele paar nostalgiese liedjies saam met die musikante wat gereeld saam met Simeon optree.
Simeon en sy musikante gaan dan ook 'n bietjie die Michael Bublé "swing -blues" haal en ook sy eie komposisies sing..... Dan moet ek en hy ook natuurlik so 'n paar liedjies saamsing.
Die besprekings gaan binnekort open - sodat ek nou-al vir almal kan laat weet. Kaartjies by computicket en by die teater beskikbaar. R120. Sien ek is al lus vir volgende jaar!!!!!!
Mag die vrede en die liefde van Christus julle harte en sinne bewaar die Kersfees en mag 2011 seën en vrede en wysheid van God inhou vir elkeen wat Hom daarvoor vertrou!
Ek sluit die goeie jaar af met die gedagte uit Koos Dup se lied.
"Wat ek is is net Genade en wat ek het is net geleen!"
Kommentaar
2010 is Joune!
Liewe Son,
Gisteraand 'n uitsending van die Vonk Toekennings gekyk. Ja nee, as 'n mens alles in ag neem van Perels (incl. die stunning musiekvideos), tot Skouspel & Vonk, en dan ook nog Liefling - Die Movie, dan was 2010 voorwaar JOU jaar! Dis so lekker vir al ons ou Sonja-fans deur al die jare om jou weer so gereeld te sien en te hoor! En dit na 35 jaar... Sjoe! Well done! You go girl!
Baie baie voorspoed en sukses vir 2011, en die volgende era!
Liefdegroete,
Frans Viljoen, Kaapstad