Geluk Suid Afrika!! met die aanbied van die wereldbeker 2010.
Baie mense was negatief, maar ek glo dat die Genade van die Here met ons was! Dit was vir my 'n positiewe nasie-bou ervaring vir ons in Suid-Afrika ......
Gedurende die vakansie het ons gewerk aan nog twee musiekvideos van my nuwe album Pêrels. Daar is dus nou drie videos van die album beskikbaar op YouTube. Dit nuwe video's is van die liedjies "Ons vlieg saam" en "Soen my vandag". Ek is baie trots op elkeen van die drie videos en dink dit is 'n baie goeie refleksie van Sonja Herholdt in 2010.
Dit is ook vir my lekker om te noem dat ek genooi is om op te tree by die Huisgenootskouspel later die jaar, en sien uit na die geleentheid om weer deel te wees van hierdie produksie. Ek gaan ook vanaf 26 - 29 November deel wees van die Rapport-C-Sokkie-bootvaart na die Portugese eilande.
Daar is ook reeds 'n paar video-grepe op youtube beskikbaar oor "Liefling die movie" waarin ek 'n klein rolletjie speel, en dit kan hier gesien word.
Ek het ook in die gallery afdeling van my webblad 'n paar fototjies geplaas van my ervaring. Die fliek word November 2010 vrygestel. Behalwe vir die materiaal op youtube het ek ook nog nie die fliek of gedeeltes daarvan gesien nie.
Ek wag maar in spanning vir die premiere op 10 November. Dit gaan dalk vir my vreemd wees om myself persoonlik te ervaar - mens is altyd maar senu-atig daaroor......
Vir die res van die jaar is my naweke redelik vol met die aanbied van my musiekmotiveringsprogram "Die Hartklop van Vrouwees".
Ons het die program nou opgegradeer, om waar dit tegnies moontlik is, aan te bied as 'n multimedia-program.
Daar is 'n nuwe lewe-gevoel in die lug - Lente? Tog dink ek nie die winter is al heeltemal verby nie!
Ek wil afsluit met wat Nelson Mandela gesê het, en dit pas so by "Ayoba", wat eintlik 'n uitdrukking van vreugde en verwondering beteken: "When you are knocked down, be sure to land on your back, because if you can look up, you can get up"
Liefdegroete
Sonja