Ek het Meimaand in die Kaap getoer en wonderlike mense en dinge beleef. Ek en Simeon het ook saam by Gatta Patat en by Die Boer opgetree, (ons is weer by die Boer 4 Okt 2011) en toe was ons ook die eerste kunstenaars wat toe geskiedenis maak om die voorreg te hê om as "buite" kunstenaars op te tree op De Rust! Dis maar altyd net die mense van De Rust wat hulle eie mense kry om konsert te hou! En wat ‘n interessante aand en wonderlike gasvrye mense!!
Die probleem met Meimaand in die Kaap is dat dit nat en koud is. So begin ek toe voel ek wil verkoue kry. My dokter het vir my ‘n voorskrif gefaks en ek het helfte van die Dischem winkel se vitamines en verkouemiddels gaan koop, saam met die antibiotika natuurlik. Oppad terug Johannesburg toe moes ek via Oos-Londern en Ladybrand stop vir twee optredes. So ry ek toe al saam met ‘n koue front vanuit Kaapstad teen die kus op (of is dit nou af?) terwyl dit net al hoe kouer word. Ek arriveer toe saam met die reën en sneeu in die Oos-Kaap en die aand in Oos-Londen, al hoesend, verloor ek toe my stem!
Nou wat doen mens in so 'n geval as jy vir jouself werk? Jy kan jouself nie afgee nie en daar sit 'n saal vol mense. So nee, ek moes net daardeur. "come hell or high water" en so het dit werklik vir my gevoel! Dit het gevoel asof ek die gehoor gefaal het omdat ek nie my beste kon gee nie - dit was maar hakkerig en stoterig met dan stem en dan geen stem nie. Tog het ek, soos ek na die tyd gehoor het, by mense se harte uitgekom, en daarvoor kan ek nie die eer vat nie! Ek is maar net so dankbaar.
Op die pragtige Ladybrand met die sneeu op die berge kon ek darem die ysige koue aand met die gehoor praat en op 'n manier vir hulle sing! Talita van die Nimue Salon Silhouette, het die vroue so bietjie bederf! Toe ek met groot verligting die volgende dag by die huis kom, het dit vir my kompleet gevoel soos my eie stukkie warm hemel, en ek kon ek fokus om gesond te word.
In hierdie tyd het ek het baie gedink aan die storie wat Elise Bosch my vertel het. Elise werk vir die MES aksie in Hilbrow. Sy vertel in die winter is die swart straatkinders spierwit in die oggend, omdat hulle gedurende die nag in die vuur se as gaan lê, net om 'n bietjie warm te kan word.
Dan dink ek onwillekeurig aan die feit dat ek dalk dit net as vanselfsprekend aanvaar - dat ek 'n veilige hawe het, met 'n warm bed.
Ek het onlangs weer hierdie waarheid gelees en wil dit graag deel: "We have one freedom inside us that nobody can take away, the freedom of reaction or attitude in any given circumstance" (Victor Frank)" We can bury our heads in the sand like the ostrich and with ostrich wisdom, and hope the problem will pass by, or we can look up and see the light, and face the problem head on!" "When you are knocked down, be sure to land on your back, because if you can look up, you can get up" (Nelson Mandela) (African Wisdom - authors: Heinrich Claasen , Lanette Hattingh)
Waar is ons koppe? Ons word met keuses gebombardeer! Die geveg is tussen ons ore - en as ons nie die manier hoe ons dink regkry nie, sal die negatiwiteit ons oorweldig.
Kyk mooi na jouself en hou jou warm, want jy is die grootste geskenk wat jy vir 'n koue wêreld kan gee!
Oorleef die winter en bly positief!