Ek was laas Sondag 31 Julie, deel van 'n groep kunstenaars wat opgetree het by die "Anneli van Rooyen huldeblyk konsert". Dit was 'n eer om deel te kon wees van hierdie geleentheid, en om vir Anneli weer te sien. Ek is so bly dat sy so mooi herstel na haar operasie.
Op die 10de Agustus saai Paselle op SABC 2 'n profiel uit my biografie "Sonja -meisie van Nigel".
Die mense wat op die program saamgesels is Hennie Smit, my buurvrou Marnelle, wie onder andere my boek gelees het, my seun Simeon, en Johan Schutte die vervaardiger destyds van my rolprent "Sing vir die Harlekyn". Op die 10de Augustus word die DVD van "Sing vir die Harlekyn" ook uitgereik en sal hy beskikbaar wees in die winkels. Daar is so baie mense wat by my wil weet waar hulle die DVD kan kry, en nou is ek bly om te sê hy is nou uiteindelik beskikbaar! Dit was nogal 'n proses om dit gedoen te kry volgens Johan.
Dit is nou al die einde van Julie - en oor drie maande gaan die kersversierings op in die winkels!
Ek glo dat tegnologie laat alles net vinnger en vinniger voortspoed! Maar nou ja - "if you can't beat them - join them!"
Ek wou hierdie winter net hiberneer met die koue wat ons moes trotseer - maar ek het toe nie - ek het saam met Lulu van der Walt en Mark Kahn in hulle ateljee in Northriding gewerk aan my eerste kinderalbum.
So tussen die siekwees-van-griep-en-verkoue van almal, het ons die kreatiewe proses aan die gang gekry. Lulu het die oorspronklike komposisies van Will Dunbar se kinderliedjies verwerk en verander om dit kommersieël en kinder-vriendelik te maak, omdat Lulu al heelwat sulke kinderproduksies hanteer het.
Ek het besluit dat die liedjies vir my kan werk omdat die liedjies eintlik storietjies is wat ek vertel, en sodoende kan ek die geleentheid kry om in hulle verbeeldingswêreld te kan inkyk, en dit dan eintlik saam met hulle te kan geniet. Dit is nogal bevrydend om deur die oë van 'n kind na die lewe te kyk!
Dit was en is nog steeds vir my 'n lekker kreatiewe proses en êrens langs die pad is daar 'n karakter vir hierdie projek gebore. Sy naam is Tjokker, en hy is my honde-pel 'n regte straatwys kleurling Kapenaar. Hy is 'n baie slim hondjie en hy vertel saam met my die stories. Hy praat in die opregte Kaapse dialek soos wat hulle praat met al hulle oulike Engelse en Afrikaanse sê-goed deurmekaar!
Tjokker moes nie net 'n stem wees nie, maar 'n karaktertjie met 'n persoonlikheid, en na 'n hele paar maniere van praat en stemnuanses wat ons uitprobeer het om 'n karaktertjie te skep, en het ons by Tjokker, 'n ware "Kapenaar" uitgekom. Lulu het Theo Klassen voorgestel en hy het agter die mikrofoon ingeklim ...... en het Tjokker geword, my Kaapse hondjie-pel. En hy kan nogal sing ook!
So hierdie kinderalbum is 'n avontuur saam met Sonja en Tjokker, terwyl hulle met die maatjies kuier en sing en gesels!
Daar gaan ook kinderstemmetjies van Laerskool Louw Geldenhuys se kinderkoor wees wat gaan saamsing.
Ons sal middel Augustus weer begin werk en die meng voltooi teen die einde Augustus.
Hou duimvas dat ons alles mooi bymekaar sal laat kom en dat alles mooi sal uitwerk dat almal die album sal kan geniet!
"Great ideas need landing gear as well as wings" CD Jackson