1 Oktober 2008

Ons is tans besig om www.sonjaherholdt.co.za te herontwerp en ek vertrou dat die veranderinge en nuwe funksionaliteit aanlyn sal wees teen die einde van Oktober. Hou gerus dop - ek vertrou dat dit die moeite (en geld) werd gaan wees. Ek was die laaste tyd in 'n proses met Select musiek betrokke om te onderhandel oor die opneem van 'n nuwe CD. Nadat ek die kontrak lank en mooi bestudeer het, het ek besluit om nie van hulle aanbod gebruik te maak nie.
Die afgelope paar jaar dink ek rêrig baie mooi oor die besigheids-implikasies van dit wat ek doen, en met die oorweging van die kontrak was dit weer so. Een van die mees "liberating" ontdekkings wat ek die laaste paar jaar gemaak het is dat daar nie 'n prins op 'n wit perd gaan kom en my "red" nie. Ek is dus gevolglik nie bang of skaam om die verantwoordelikheid te neem om vir myself te sorg nie. Ek beskou myself as 'n besigheidsvrou, en neem dus besluite wat goeie finansiële sin maak. Dit sal dus weens ekonomiese oorwegings dalk 'n hele rukkie neem voordat daar weer 'n Sonja Herholdt CD op die winkelrakke gaan wees.
Ek glo egter onwrikbaar in die potensiaal wat die internet bied en is van plan om soos wat dit ekonomies sin maak en prakties uitvoerbaar is - die geleenthede maksimaal te benut. Ek het nog nooit in my lewe teruggedeins vir 'n uitdaging nie en is ook nie bang vir verandering nie. Hou dus hierdie spasie dop!

 


My motiverings-program het my die laaste paar maande amper reg oor Suid Afrika geneem, en ek is so dankbaar en vervuld met die kans wat ek gegun word om my talent op hierdie manier uit te leef.

Ek weet ek het dit al baie gesê, maar ek wil dit net weer sê. Dit is moeilike tye daar buite, maar daar is soveel ongelooflike "survivors" daar buite - gewone mense wat net in die stilligheid hulle ding doen! Dit is vir my 'n ongelooflike inspirasie. Ek wonder of daar al ooit 'n opname gedoen is oor die aantal mense wat "cope" met die lewe. Daar is baie - en ek haal my hoed af vir elkeen wat sy, of haar omstandighede hanteer, en dit oorkom. Julle bly vir my 'n inspirasie!

Dankie aan almal wat belangstel - dit help - en maak hierdie "incredible journey" waarop ek is baie makliker!

Groete

Son

(Foto bo: geneem tydens Pretoria raad vir sakevroue funksie. Agter my staan Vernon Koekemoer