So jy het ook dalk 'n tipe plastieklagie- oftewel "Smash & Grab film" op jou motor se vensters? Goeie idee het ek gedink toe die verkoopspersoon my onlangs die opsie gebied het met die koop van 'n nuwe motor. Dit was nie te duur nie en maak die motor dan net soveel veiliger. Tot my wrede ontnugtering - oukersaand 2007. Ek het net stilgehou by die Malibongwe afrit vanaf die N1 snelweg in Randburg, toe 'n grypdief my motorvenster aan die passasieskant flenters slaan en vort is met my handsak wat op die sitplek langs my was. Ek was 50% skuldig - want ek het van beter geweet. Ek ry gewoonlik nie met my handsak op die passasies-sitplek nie, maar die betrokke aand, wel . . . 'n foutjie. Maar ek het tog voorsorg getref vir hierdie moontlikheid - ek het dan ekstra betaal vir die "smash & grab" en dit het duidelik nie gewerk nie. Of het dit? Hoe dan nou?
Dirk van der Merwe die verkoopsbestuurder by Northcliff Volkswagen was baie ontsteld oor die insident en het 'n afspraak by LLumar die verskaffers van die "smash & grab" gereël sodat hulle aan ons kon verduidelik waarom my motorvenster so maklik (net een hou) gebreek het.
Paul Rockey van LLumar Suid Afrika het soos volg aan my verduidelik. Gewoonlik word die LLumar "Smash & Grab film" deur 'n installeerder wat as 'n agent vir LLumar optree geïnstalleer. Die installeerders kry opleiding by Amerikaners wat spesiaal vir hierdie doel teen groot koste Suid Afrika toe gebring word. Die verbruiker behoort 'n keuse te hê t.o.v. die dikte en tint van die "smash & grab film". Hoe dikker die plastieklagie hoe beter die beskerming, maar hoe moeiliker installeer dit.
Juis oor hierdie rede verkies meeste installeerders om nie vir die kliënt 'n opsie te bied t.o.v. die dikte nie, en installeer hulle dadelik die dunste, nl 100 mikron "smash & grab film" wat ook die maklikste is om aan te wend. 100 Mikron was ook op my motorvensters.
Die 100 mikron "film" gaan nie noodwendig iemand keer om die ruit maklik te breek nie. Dit help wel dat die glas nie splinter nie en behoort beserings agv die glas wat spat te keer, maar in my geval het die glas my gesig en ken en hand gesny. Toe ek by die polisiestasie aankom, het die polisie-assistent my sonder veel emosie beduie het om eers die bloed op my gesig te gaan afwas, voordat hy my verklaring gaan neem.
Volgens Paul is die dikker LLumar "smash & grab film" ook duurder en is motoriste nie alteid bereid om vir die duurder produk te betaal nie. Na my gesprek by LLumar het hulle aangebied om 200 mikron "film" op my vensters aan te bring en het Northcliff Volkswagen die gebreekte venster kosteloos vervang. Die versekering het uitbetaal en die skade aan die binnekant van my motor is herstel.
Op die LLumar web blad www.llumar.co.za is daar 'n promosie-video vir hulle "smash & grab" produk. Volgens hierdie video vertraag 'n 7mil (175 mikron) "Smash & Grab" lagie 'n grypdief met ongeveer 40 sek. Dit is dus baie duidelik dat 200 mikron 'n veiliger besluit t.o.v. "smash & grab" gaan wees, alhoewel dit jou duurder gaan kos en die installeerder sy storie sal moet ken.
"Smash & Grab" is veronderstel om 3 dinge te doen:
My ervaring is dat 100 mikron "film" nie genoegsame beskerming teen 'n grypdief bied nie. As jy die moeite doen om "smash & grab" te laat installeer vra liewers vir 200 mikron en maak seker jy kry 'n waarborg-sertifikaat.
Nogmaals dankie aan Dirk van der Merwe van Northcliff Volkswagen vir die uitstekende kliënte-diens en aan Paul Rockey van LLumar vir die dikker en "beter" 200 mikron "film"
Vir meer inligting oor "smash & grab film" besoek gerus LLumar by www.llumar.co.za of kontak hulle op (011) 321 8040